In die Wakis

Oneindig groot en kosbaar is die Skatte en die rykdom van God se Woord! Hierdie kosbare bedieninge van Sy Genademiddele, kan die natuurlike mens nie bereken nie. Om iets hiervan te begryp, moet ons, deur die krag van Sy Woord en Gees, van ons sonde en ons ongeregtigheid oortuig word, ja, ons moet volkome bewus word, van die verlore en natuurlike-staat, waarin elke mens homself bevind, vanweë die erfsonde in die eerste Adam en die eie sonde, wat ons daagliks, gewilliglik daaraan toevoeg. Geen mens kan of het die begeerte, om homself vanuit hierdie verlore staat van ellende, te verlos nie! Dit is hierdie suiwere Leer, wat die natuurlike mens nie kan verdra nie, want die mens wil gedurigdeur in sy eiegeregtigheid roem. Die Verlossing is die soewereine werk, van die Drie-Enige-God, want, bevestig die woorde, in Rom. 11 vers 36:
“Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
Uit Hom! God die Vader, het in Sy ewige Raad, na Sy vrye wil, ’n sekere aantal mense, vanuit die ganse mensdom uitverkies, ja, Hy het hulle vanuit hulle natuurstaat oorgebring, in Sy Genadestaat in Jesus Christus. In Kol. 1 vers 13, word dit bevestig met hierdie woorde:
“Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,”
Deur Hom! Alleen deur die kosbare bloed van ons Here Jesus Christus, is daar verlossing, genesing en vergifnis van sonde en ongeregtigheid, want, bevestig die woorde, in vers 14:
“in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.”
Tot Hom! Hierdie Verlossingswerk in Christus, word alleen deur die kragtige werking van die Heilige Gees, in die vernuwe-hart van die uitverkorene bevestig. Reeds in die Wet van die Here, word hierdie soewereine Verlossingswerk van God bevestig, met hierdie woorde:
“Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê: Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.”
Dit is die suiwere Leer van die Evangelie, die Verlossing in Jesus Christus!
Wanneer ek nou as ’n eenvoudige boer, hierdie suiwere Leer in die Lig van God se Woord oordink, sien ek in my geestesoog, ’n treffende ooreenkoms tussen die daaglikse bedrywighede van die landbouer en die wonderdade van ons hemelse Vader. ’n Getroue landbouer voed en versorg sy skape na die beste van sy vermoë, hy bewaar en beskerm hulle teen die dreigende gevaar. Tot beskerming en beveiliging, span hy ’n lyndraad tot hulle behoudenis. Hierdie lyndraad is ’n sigbare skeidslyn, om sy skape af te sonder. Om hierdie heining tot stand te bring, moet daar eers ’n vaste ankerpaal gevestig word. Hierdie ankerpaal word uiteindelik met ’n soortgelyke ankerpaal verbind. Tussen hierdie ankerpale word daar verskeie trek-en ysterpale, deur die eienaar geplant, om die lang lyndrade gereeld weer styf te trek. Tussen hierdie ysterpale word sparre vasgemaak, om die drade eweredig en lyn-reguit te span.
In hierdie lyndraad sien ek die Grootheid van God se Verlossingswerk in Jesus Christus, ja, ek sien Sy wonderbare werke, hoedat Hy die ware Kerk deur al die eeue, in Christus onderhou en bewaar. Dit is ’n vaste en ’n sigbare lyn wat dwarsdeur die Bybel loop. Die ewige en die onwankelbare Ankerpaal, Jesus Christus, Hy het na hierdie gevalle wêreld gekom, tot redding en tot die behoudenis van die uitverkorenes. Die Ankerpaal is in hierdie grond geplant, ja, Hy het Sy ewige heerlikheid verlaat en die gestalte van die mens aangeneem, behalwe die sonde! Die suiwere Evangelie van Verlossing is in Hom, die Vaste Fondament van die Saligheid gegrondves, niemand kan buite Hom vir die ewige geluksaligheid behoue bly nie. Geen lyndraad, kan sonder ’n vaste Ankerpaal behoue bly nie! Hy is die onwankelbare Ankerpaal, die Alfa en die Omega, die begin van die lyndraad en ook die einde daarvan! Hy maak skeiding tussen murg en been, ja, in Hom is die ewige geluksaligheid vir Gods volk. In en met ’n vaste en doelgerigte lyn, is God met Sy uitverkore Kerk in Christus, onderweg om op ’n bepaalde tyd, die Saligmaker en Verlosser te ontmoet! Uit Hom, deur Hom en tot Hom, is alle dinge!

Tussen hierdie Ankerpale, ja, Hy wat is en wat was en wat weer kom, staan daar verskeie trekpale, oor ’n lang afstand deur die eeue heen! Trekpale wat deur die Eienaar self geplant is, tot behoudenis van hierdie lyndraad, die uitverkore volk van God in Jesus Christus. Daar is verskeie uiters belangrike trekpale deur die geskiedenis, trekpale waar God die lyn van die Waarheid weer self styf trek. Dink maar aan die trekpaal van die Waldense, die trekpaal van die Reformasie, op 31 Oktober 1517, waar Hy opnuut weer die suiwere Leer van die Evangelie, deur die krag van Sy Woord en Gees bevestig het. En indien ek dit sou verswyg, sal die klippe dit uitroep, dink maar aan ons geliefde vader Smytegelt, ’n trekpaal in die geskiedenis van ons Voortrekkers. ’n Begenadigde van ons Hemelse Vader, in die suiwere bedieninge van Sy Genademiddele, waarin en waardeur ons die onuitspreeklike rykdom van Sy Woord ervaar. En die sparre? Die eienaar gaan haal hulle uit die doringbosse van die natuur, onooglik en krom is hulle, vanweë al die sytakke, vergroeisels en die knoetse! Hulle moet eers reggesny en voorberei word, om diensbaar te wees. So is dit ook met die uitverkorene, hy word ook vanuit sy verlore natuurstaat verlos en deur die krag van die Woord en Gees bewerk en voorberei, om uiteindelik diensbaar te wees, in die dinge van God se Koninkryk. Hierdie lyndraad moet ook gedurig, deur die eienaar in standgehou word, die sparre gaan los of gaan lê skeef, en dan moet dit deur die wakende oog en versorgende hand van die eienaar, weer opgetel en verbind word. So moet die uitverkorene ook gedurigdeur, in die Waarheid van God se Woord, versorg, onderhou en versterk word. Hierdie lyndraad van die Eienaar, dien ’n uiters noodsaaklike doel, dit dien tot beskutting, beskerming en bewaring, van Sy kudde!
Mag hierdie Preekbundel, deur die kragtige werking van die Woord en Gees, die suiwere Leer van die Verlossing in Jesus Christus, in die hart van die leser grondves, sodat hierdie allernoodsaaklike belydenis in Openb. 7 vers 12, ook ons hartlike getuienis in hierdie wêreld sal wees:
“Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen.”
Die lof, die eer en die heerlikheid behoort aan ons Hemelse Vader, Hy gebruik krom en stukkende sparre, waarvan ek die kromste is! Hy berei hulle voor, deur die krag van Sy Woord en Gees en Hy maak hulle gewillig en diensbaar, terwille van die Waarheid van Sy Woord. Alleen deur Sy ontfermende Genade, kan ek Hom dank, vir die rykdom van Sy Genade in Jesus Christus, my Here, deur die kragtige werking van Sy Woord en Gees!
Opregte dank en waardering aan elke lidmaat van die Oud-Gereformeerde gemeente van Theunissen, dankie vir elkeen se bydrae en ondersteuning, in die Stryd vir die suiwere Leer van die Evangelie. Dankie, vir elkeen wat elke Sondag inskakel, die erediens telefonies aanhoor en daarna ’n boodskap van waardering en versterking stuur, dit is ’n dankbare bevestiging, dat die pyle van God se Woord, die toehoorders sekuur tref! ’n Spesiale woord van dank aan my geliefdes, my geliefde vrou Helena, my kinders en kleinkinders, vir elkeen se liefde en bemoediging, ja, dit is wat ’n stukkende erdekruik soos ek, staande hou! Dankie vir julle bereidwilligheid, julle betrokkenheid en verantwoordelikheid. Dankie Helena, Sakkie en Callie, vir julle hulp en opoffering, om hierdie Bundel op te stel en uit te lê. Ook ’n Woord van dank aan my broer I. J, en sy gesin, dankie vir julle ywer in die wingerd van die Here, jy ’n broer in die vlees, maar deur die Genade, is jy vir my ’n ware broer in die Gees, daarvoor dank ek die Here! Graag wil afsluit, met hierdie baie belangrike woorde, in Filip. 2 vers 13:
“want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
Die begenadigde vertaler,
Oudl. Manie Earle.
Oud-Gereformeerde Kerk,
Kalkfontein,
THEUNISSEN.
O.V.S.
'n Enkele preek uit die bundel kan hier afgelaai word.