Die Gereformeerde Erfenis

Deur die Genade van ons Hemelse Vader, deur die werking van die Heilige Gees, glo en bely ons dat die Bybel ( 33/53 Vertaling), die Heilige Woord van God is. (2 Tim. 2:16) Deur die Genade, glo ons aan die volkomenheid van die Heilige Skrif om alleen die reël van ons geloof te wees. "Heilig hulle in u waarheid, u woord is waarheid" (Joh. 17:17);
"En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het" (Joh. 17:3); "En ons het die profetiese woord wat baie vas is" (2 Pet. 1:19); "Die hele Skrif is deur God ingegee" (2 Tim. 3:16).
Wanneer die vraag dan aan u gestel word: Waarom is u lidmaat van die Oud Gereformeerde Kerk? Dan kan u met die Heilige Woord van God in u hart, en die geskiedenisboek in u hand, met dank aan God, antwoord: "Omdat die Oud Gereformeerde Kerk die ou historiese kerk is wat ontstaan het tydens die Hervorming en tans nog deur die Genade, voortbestaan as die kerk wat nog die suiwere draer is van die leersuiwerheid soos dit uitgekristalliseer het in die Hervorming. Wat die Belydenisskrifte betref, aanvaar ons die volgende, omdat dit gegrondves is op die Heilige Woord van God: a) Die algemene belydenisskrifte: (1) die Apostoliese Geloofsbelydenis (12 Artikels), wat in die jaar 50-100 na Christus vir die eerste keer aangetref word; (2) die Geloofsbelydenis van Nicea, opgestel deur die eerste algemene konsilie, wat in die jaar 325 in Nicea vergader het en dit handel oor die Drie-Eenheid van die Goddelike Wese en is opgestel teen die Ariane, wat die Godheid van Christus geloën het; (3) die Geloofsbelydenis van Athanasius, wat ook handel oor die Drie-Eenheid en gedurende die sesde eeu vir die eerste keer aangetref word.
b) Die besondere belydenisskrifte. Ons noem dit ook die Drie Formuliere van Eenheid. (1) Die Nederlandse Geloofsbelydenis. (2) Die Heidelbergse Kategismus. (3) Die Dordtse Leerreëls. Vanuit die Heilige Woord van God, kom hierdie belydenisskrifte om die ware leer te bevestig.